THE BLOG

So Onthou Hans du Plessis Vir PG du Plessis

Van alles was sy grootste nalatenskap dat hy mense liefgehad het.

08/06/2017 15:41 SAST | Updated 08/06/2017 15:41 SAST
Gallo Images
PG du Plessis tydens 'n onderhoud in 2014 in sy studeerkamer.

Hoe skryf ʼn mens oor iemand soos PG du Plessis?

Veral iemand soos hy met so ʼn ryk nalatenskap in die Afrikaanse letterkunde. Selfs buite die Afrikaanse taalgemeenskap het hulle hom geken, want waar hy gekom het, het hulle hom op sy naam gegroet omdat hulle hom op die televisie gesien het of omdat hulle Koöperasiestories gekyk het, al kon hulle nie elke woord daarvan verstaan nie.

Dit is gewoonlik makliker om oor ʼn onbekende bekende te skryf, maar as ʼn mens moet skryf oor jou eie vriend wat ʼn bekende was, weet jy nie mooi waar om te begin nie.

As Afrikaanse skrywer laat hy ʼn stuk enigmatiese Afrikaans na. In sowel sy dramas, soos Siener in die suburbs, en die kortkuns van sy rubrieke, sy sketse oor die delwerye en die platteland is dit sy ongemaklike kennis van mense, sy deernis met die onderstes van die onderstes. Hy het oor hulle geskryf soos wat jy oor familie sou skryf. Nooit neerhalend nie, al was hy soms sinies.

Maar vir my staan Fees van die ongenooides uit soos ʼn seder bokant die ander literêre bome. ʼn Verhaal oor die leuen. Oor oorlog en oor vrees én moed. Geskryf vir almal wat kan lees.

Hy is baie keer bekroon vir sy woordwerk. Vir Siener in die suburbs ontvang hy byvoorbeeld die gesogte Hertzogprys vir drama van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en vir Fees van die ongenooides kry hy die ATKV-prosaprys en die Helgardt Steyn-prys.

Maar PG du Plessis was nie net skrywer nie, hy was verteller op die televisie in ʼn program soos Spies en Plessis, aanbieder van PG gesels met. Dit het verder van hom volksbesit gemaak.

Maar vir my was hy ʼn mentor en ʼn goeie vriend. Lojale vriend wat vir mense omgegee het en wat sou help waar hy kon. Ons kon kuier op hy en Marie se plaas Semoer in die Rysmierbult-distrik of as hy dorp toe gekom het, het ons vir ure in die Akker gesit, koffie gedrink en gepraat oor alles: oor die skryfkuns, die politiek, die godsdiens en oor mense. Nie dat ons gesprekke hier nooit onderbreek is nie, want omtrent almal wat verbygeloop het, het hom herken en ʼn praatjie kom aanknoop. Nooit het ek hom ongeduldig met sy bewonderaars gesien nie. Hy het tyd gemaak om met hulle te gesels.

Miskien was sy grootste nalatenskap dat hy mense liefgehad het.